You are currently viewing Periodontale siektes
Periodontale siektes

Periodontale siektes

Wat is ‘n periodontale siekte?

Tandvleisiekte (periodontale siekte) is ‘n ernstige infeksie wat kan lei tot die verlies van tande en ook ‘n ernstige bedreiging vir jou gesondheid inhou.

Periodontale siekte is ‘n chroniese bakteriële infeksie wat die tandvleis en ondersteunende been rondom die tand raak.

Navorsing toon dat infeksies in die mond kan op ander plekke in die liggaam verwoesting saai.

Periodontale bakterieë wat tandvleissiektes veroorsaak, kan die bloedstroom binnedring. Dit beweeg dan na al die groter organe waar dit nuwe infeksies kan veroorsaak.

Volgens navorsing kan dit:

  • bydra tot die ontwikkeling van hartsiektes.
  • die risiko vir beroerte-aanvalle verhoog.
  • vroue se risiko verhoog vir vroeë geboortes en lae-gewigbabas.
  • ‘n ernstige bedreiging wees vir mense wie se gesondheid geaffekteer word deur siektes soos diabetes.

Die belangrikste oorsaak van periodontale siekte is bakteriële plaak. Dit is ‘n klewerige, kleurlose lagie wat aanhoudend op die tand vorm.

Plaak begin binne vier tot twaalf uur ná tande geborsel is om op dietandoppervlak te vorm. Dit is baie belangrik om minstens twee maal per dag tande te borsel om dit te voorkom.

Plaak wat nie deur gereelde borsel en vlos verwyder word nie, verhard om onooglike kalksteen te vorm. Dit kan slegs deur ‘n tandarts of mondhigiënis verwyder kan word.

‘n Periodontale siekte kan verskillende vorms aanneem en kan een of meer tande affekteer.

Dit begin sodra die bakterieë in plaak onsteking in die tandvleis veroorsaak.

Bakterieë vermeerder in plaak en dit stel toksiene (gifstowwe) vry wat die tandvleis begin irriteer en ontsteek. Die geringste vorm van periodontale siekte word gingivitis genoem en ontstaan weens swak mondhigiëne.

Hoe ken mens periodontale siektes uit?

Die tandvleis is gewoonlik geswel, rooi en dit bloei maklik wanneer tande geborsel word. Daar is gewoonlik geen ongemak in die begin stadium van die siekte nie. Gingivitis is omkeerbaar met professionele behandeling en goeie mondhigiëne.

Onbehandelde gingivitis kan oorgaan tot gevorderde tandvleisontsteking of periodontitis. Plaak versprei en groei onder die tandvleis in.

Toksiene wat deur die plaakbakterieë gevorm word, veroorsaak ‘n chroniese ontstekingsreaksie. Die sagteweefsel en been wat die tande ondersteun word afgebreek en vernietig.